Pretoria Boeremark

Die Boeremark word reeds vir agt-en-twintig jaar suksesvol aangebied. Duisende verbruikers stroom Saterdagoggende na die mark om plaasprodukte by die produsente te koop. Dit word beskou as die beste boeremark wat daar nog is. Wanneer die meeste mense nog slaap op `n Saterdagoggend is die Boeremarkterrein reeds `n miernes van bedrywighede waar uitstallers hulle stalletjies opstel en opvul met vars groente, vrugte, vleis, gebak en mooi handwerk items. Net na 5 uur daag die eerste gereelde kopers al op en begin al kuierend met hul inkopies. In die winter, gepantser teen die koue met musse en handskoene en `n kop-lampie of `n flits, word van vuurtjie na vuurtjie getrek om produkte te koop.

Stalletjies

Begin jou eie stalletjie

Van die begin af was die mark ‘n groot sukses en die inkomste wat uit stalletjiefooie gegenereer word, word terug geploeg in landbou. Met die beplanningsfase van die ‘Innovation Hub’ het dit egter duidelik geword dat die ingangsroete na die ‘Hub’, deur die Boeremark se parkeerarea sou loop. Na verskeie opsies oorweeg is, is daar besluit om die mark te verskuif na die Pionier Museum se terrein in Januarie 2004 waar die mark gehou was tot in Julie 2017. Die Boeremark het besluit om n eie stukkie grond aan te koop. Die nuwe perseel is steeds in Silverton geleë met sy ingang in Moreletastraat waar die straat in die ooste doodloop.

Produkte

Produsente wat stalletjies by die mark het, kom van oral oor. Die mark funksioneer op die vryemarkstelsel en indien die produk nie ‘n landbou produk is nie, is die vereiste dat dit handgemaak moet wees. Tradisionele kos soos pap en kaiings, pannekoek, vetkoek en melkkos is baie gewild. ‘n Groot verskeidenheid van kossoorte is by die mark te koop. Vars brood, pasteie, tuisgebakte koekies en beskuit, heel hoenders en verwerkte hoenderprodukte, vleis en vleisprodukte, verskeie kaassoorte, vars melk, joghurt en ingemaakte produkte. Vars blomme, plante en saailinge is ook te koop. Daar is ook speserye, kruie, droë vrugte, neute, handgemaakte klere, juwele, staalkuns, houtwerk items en ‘n wye verskeidenheid van ander kunsvorms.

Kostes

  • R400 toetree fooi ( nie terug betaalbaar) plus R220 vir die eerste Saterdag en daarna R220 per Saterdag. Stalletjie fooie is vooruitbetaalbaar.
  • ‘n E-pos moet gestuur word na ptaboeremark@tlu.co.za waarin die produk wat u wil verkoop vermeld moet word.
  • Die voornemende uitstaller moet nadat hy antwoord op sy e-pos ontvang het, eers by die mark na n beskikbare stalletjies kom kyk en n stalletjie kies waarna hy/sy dan die daarop volgende Saterdag die stalletjie kan beman. U moet met eie tafel en stoel, en n gazebo vir u stalletjie bring.

Wanneer

Die mark begin 5:30 elke Saterdag en loop teen 9.30 ten einde en is slegs op Christelike vakansiedae gesluit. Elke Saterdag kom duisende besoekers vir hulle weeklikse inkopies na die mark. Mense kom met familie en vriende, selfs om nuwe vriende daar te ontmoet. Dit is ‘n onvergeetlike ervaring.

Doen jouself gerus die guns om net een Saterdag vroeg uit die vere te klim en te kom kuier by die Boeremark, jy gaan verseker dit weer met `n opgewondenheid wil doen! Dit is die beste plek om te wees om die son te sien op kom.